Webskakels en dinge
ARTIKELS
Die internet se slaggate
Gewoonlik kom behoorlike perspektief oor 'n netelige saak eers agterna wanneer 'n mens nadink oor die uiteinde en die resultate van al die opsies wat jy moes oorweeg en oor besluit het. Baie keer is dit ook 'n kwessie van "spyt kom te laat" as jy dinge meer op die ingewing van die oomblik as op deurdagte oorwegings gedoen het .

Ek het pas so 'n situasie beleef! Noudat die werklike probleem opgelos is, moet ek eers weer daaraan gewoond raak om soos voorheen normaal voort te gaan. Die kwessie is wel opgelos, maar ek weet nou wat die opsies is wat ek kan volg as ek wil verbeter op die huidige doen van dinge.

Die lollery het ongeveer twee weke gelede begin toe ek ewe skielik nie meer internet toegang kon kry nie. Ek moes die tekens van 'n naderende krisis al eerder besef het toe my bedrywigheid op die web al stadiger begin word. Tot my nadeel het ek dit toegeskryf aan die groot verkeersvolume aan my kant. Dis hoe dit gaan. Jy ervaar die ongemak, maar aanvaar dit as net 'n bedrywige stelsel of so iets wat mens aan gewoond moet raak. Boonop het ek die skep van nuwe webjoernale en blaaie geniet en die haakplekke as normaal beskou. Ek het al begin dink aan groter internet toegang (meer gigabytes) soos mens normaalweg onder sulke omstandighede sou doen!

En dis juis hierdie hunkering na meer spasie en spoed wat die spreekwoordelike "eskom se moer in die rat" was! Eintlik het ek vir 'n aanloklike reklame aanbod geval en my opsies verander sonder om werklik al die ander interaksies wat daarmee saamgaan na te vors. Om dit prontuit te stel: ek het nie daaraan gedink dat daar meer as een rolspeler betrokke is nie. Sien, Telkom het die monopolie op die lynverbindings wat vir adsl nodig is en ek het dit destyds goedgedink om adsl by 'n ander diensverskaffer aan te koop. Wat ek dus uit die oog verloor het of dalk nie eers geweet het nie, is dat Telkom se lynregte ook betrokke is by veranderings aan die adsl-diens. As ek dus die tipe adsl-diens verander, moet Telkom eers die nodige verstelling in hulle stelsel aanbring.

Dit is 'n bietjie ingewikkeld, maar kom daarop neer dat die verstellings in die "router" wat aan die lyn verbind is verander of opgedateer moet word. Dit het ek eers uitgevind nadat ek die lynfout aangemeld het, my ander diensverskaffer se hulp ingeroep het, gewag het en weer oor die "lynfout" navraag gedoen het. Ek het my "router" laat toets soos hulle aanbeveel het, al my rekenaarverbindings nagegaan en meer as 'n week met die probleem geworstel sonder om daaraan te dink dat stelsel-veranderings nodig is. Boonop het ek selfs 'n selfoondiensverskaffer se adsl-diens as 'n tydelike "oplossing" ten duuste aangekoop.

Die oplossing was tog so eenvoudig! Al wat nodig was, was 'n vriendelike en hulpvaardige tegnikus op die hulplyn se bydrae nadat ek maar noodgedwonge uit verleëntheid in Engels moes kommunikeer en so terloops uitgevind het dat ek spesifiek moet vra vir die stelselverstelling! Eintlik is dit 'n maklike proses om die verstellings self te doen as ek dit net geweet het. Wel ek dink nie dis reg as ek die "geheim" hier verklap nie, maar kan wel sê dat Telkom 'n spesiale webblad het waar jy self die verstellings kan aanbring! Maar jy moet eers met 'n gebruikersnaam en toegangskode wat jy by die betrokke adsl-diensverskaffer gekry het, "ingeboek". Daar is natuurlik 'n prosedure wat jy daarna volg, maar die proses is redelik stap vir stap en gebruikersvriendelik uiteengesit.

Die les wat ek hieruit geleer het is dit: Doen behoorlik navorsing oor al die vereistes, rolspelers en hulle aksies in die proses voordat jy sommer die adsl-tierkat aanpak en veranderings wil maak! My versuim om dit te doen het my uiteindelik meer aas R600 (selfoondiens) gekos, natuurlik weens my onkunde en hardkoppige versuim om behoorlik oor alle aspekte en opsies navraag te doen! 'n Duur les om te leer en boonop erkenning dat ek my vrou se raad en intuisie gladnie moet onderskat en ignoreer nie.


Oorspronklik gepubliseer in "Joernaal vir lewenservaringe"

, skepper van "Webskakels en dinge" en ander webtuistes. Skrywer en vertaler van 'n paar eboeke en verslae oor sukses en self-ontwikkeling, soos byvoorbeeld artikels wat op hierdie webblad en elders verskyn. My betrokkenheid by die internet strek oor 'n periode van meer as 25 jaar as versamelaar en privaat-bemarker van gratis internet-inligtingslektuur asook skepping van webblaaie, webjoernale, artikels en verslae. In die proses het ek 'n baie goeie praktiese kennis en ondervinding van die werking van die internet se vele fasette en mense, asook belangrike webbladtale soos HTML, CSS en PHP opgedoen. My persoonlike kontak-adres vir navrae is by hierdie skakel: http://ciskano1.com/pietventer/kontakmy.html.

Hierdie blad is hersien op:
U is besoeker nr: Website counter

Vertel asseblief u vriende hier indien u die artikel geniet het!